Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, July 2, 2009

SA se situasie druk my ter neer

Bron: Beeld

Jul 02 2009 01:37:15:790AM - (SA)

"Dinsdag by Wat;s die Storie se ateljee sê die joernalis Chris Louw: Jou rubrieke maak my depressief." So skryf Tim due Plessis verlede Vrydag in Beeld. Chris Louw reageer op die rubriek.

Ek het ’n broertjie dood aan rubriekskrywers en politieke kommentators wat glo hulle is die sieketroosters van die volk.

Dit maak nie saak hoe vrot die ANC regeer, hoeveel korrupsie daar is, hoe onomkeerbaar die misdaadkultuur nie . . . alles moet in konteks geplaas, verduidelik en verstaan word.

’n Paar van Niekie van den Berg se broederskap-Sondae op Kommentaar op RSG het ’n skoot van dié sieketrooster-virus weggehad. Daar is uit ’n Afrikaner-perspektief na regeringsoptrede gekyk en dinge is ontleed asof die ANC die lewe met dieselfde bril as die waarnemers beskou.

Kollegas vir wie se professionaliteit ek die grootste respek gehad het, het sedert 1994 dié siekte onder lede gekry. Die verskoning byna deurgaans: Ons mag niks doen wat ons brose demokrasie in gevaar kan stel nie. Ons moet nie iets sê wat die stereotipe van Afrikaners as rassiste onder ons ander landgenote bevestig nie.

Op dié trant het die Afrikaanse media sienderoë toegelaat – sonder deeglike, kritiese beriggewing of ontleding – dat die land verval tot die bykans wanfunksionele gemors waarin ons nou sit.

Gun my die geleentheid vir ’n bie-tjie selfregverdigende konteks. Ek het oudpres. Thabo Mbeki omstreeks 1983 in Londen ontmoet; ek het in drie jaar in Brittanje deurlopend kontak gehad met die Nederlandse anti-apartheidsbeweging; ek het oorsee onderhoude met politieke ballinge gevoer.

Ek het selfs in 1985 by wyle Johnny Makatini aansoek gedoen om ’n betrekking by die ANC se Radio Freedom – op die uitdruklike voorwaarde dat ek toegelaat word om die soort demokratiese debat op die lug te voer wat destyds nie in Suid-Afrika geduld is nie.

My aansoek is afgekeur. Die ANC was oorloglustig en het net aptyt gehad vir kru propaganda teen die “racist white minority regime”.

En in 1987 is ons Dakar toe om, teen oudpres. P.W. Botha se wil, met die ANC te praat. Ek was redakteur van Die Suid-Afrikaan, die eerste openlike anti-apartheidsblad in die land. Die Afrikaanse koerante het ons “Dakar-gangers” tussen die bene geskop as “meelopers van terroriste”.

Ek kon sien die politieke situasie in Suid-Afrika het onhoudbaar geword. Dat Afrikaners, veral, in ’n soort rigor mortis vasgevang was. Maar ek kon ewe goed sien dat die ANC-leiers met wie ons kontak gehad het nie opgewasse was vir die taak om ’n moderne, gesofistikeerde land te regeer nie.

Die retoriek van “Marxistiese metodologiese dualisme” en die krete van “Amandla! Awethu!” gee ’n lekker warm gevoel in die binneste; ongelukkig is dit geen plaasvervanger vir die praktiese bestuur van ’n suksesvolle land nie.

Dit was daai tyd so helder soos daglig: Demokrasie was ál uitweg. Konsensus was nodig om ’n legitieme staatsbestel te vestig. Maar dan sou die burgerlike samelewing – soos die koerante – ’n deurslaggewende rol moes speel om ’n mate van integriteit te help verseker.

Ek het met beklemming gehoor hoe die Broederbonders wat die revolusie agter die skerms saam met die ANC beplot het, praat dat hulle bereid was om hul lewens aan Thabo Mbeki toe te vertrou. (Eindelik was nie eens die ANC bereid om Mbeki aan die roer van die land te vertrou nie!)

Toe, ná 1992, slaan die Afrikaanse koerante gat om. En boeta, slaan hulle nie gat om nie: juigkommando vir die nuwe bedeling en – by implikasie – die ANC.

En ons ouens wat waarsku: “Wag, wag nou, versigtig, dis demokrasie, nie ANC-krasie nie,” word oornag reaksionêr. Of minstens só getipeer. Deur dieselfde joernaliste wat voorheen deur hul swye geloofwaardigheid gegee het aan hul meer uitgesproke kollegas se beskuldigings dat ons “ANC-meelopers” is.

Ek het groot waardering vir Tim du Plessis se eerlikheid, vir sy “woordfoto van dit wat die skrywer op ’n gegewe oomblik raaksien”, of “episodiese verslaggewing”, soos hy dit laas week gestel het. Trouens, ek dink Afrikaanse koerante oor die algemeen is deesdae eerliker – en dapperder – as tevore.

Dis ’n nuwe verskynsel. Wat het tussenin gebeur? Ons het almal geleer om “ironies te lewe”. Om een ding te dink en ’n ander ding te sê.

Om te probeer verstaan waarom bekwame mense plek moet maak vir dikwels onbevoegde mense. Om oë toe te maak terwyl slaggate in ons paaie val.

Ek mis steeds koherente – eerder as episodiese – ontledings van die bewysbare verval in die onderskeie staatsdepartemente.

Ek wil weet in watter situasie ek lewe, amper soos ’n pasiënt met terminale kanker nie wil hê die waarheid moet van haar weerhou word nie.

Dis miskien melodramaties, maar in my kop het ek die beeld van die Sowjetunie, ’n oënskynlik onbeweegbare monoliet wat oornag, onverwags, ingee onder sy eie teenstrydighede.

Ek wonder hoe lank ’n land die skyn van normaliteit kan voorhou wanneer wat ons ervaar die inkrementele maar meedoënlose aftakeling is van die basis waarop ’n suksesvolle, funksionerende samelewing berus.

Dis nie heeltemal reg om te sê Tim se rubrieke maak my depressief nie; dis die situasie waaroor hy skryf wat my depressief maak.

Mense het drome nodig – mites, as jy wil – om die lewe sinvol te maak. In ’n land waar jy nie meer veilig in jou eie bed kan slaap nie, word jy ontneem van die reg op drome. En wat bly dan oor? Waar is die uitkoms?

No comments:

Post a Comment