Geskryf deur Sonette Ahlers
Indien Adriaan Vlok ooit ‘n nuwe beroep oorweeg, kan hy gerus daaraan dink om ‘n pedikuursalon te open. Sweterige sole? Ingroeitoonnaels? Chez Adriaan het die antwoord.
Nadat die gewese minister van polisie in 2006 opslae verwek het toe hy Frank Chikane en nege vroue van Mamelodi se voete gewas het om vergewing te vra vir sy sondes onder apartheid, het hy nou weer so gemaak. Verlede naweek het hy naamlik tydens ‘n byeenkoms in Bloemfontein dertien gewese polisie - en weermaglede se voete gewas en hulle om vergifnis gevra aangesien hy “hulle verkeerd gelei het en die verkeerde voorbeeld gestel het.”
“Vlok het hulle in die oë gekyk, jammer gesê en ’n drukkie gegee. “Dit was baie emosioneel. Daar was trane in hul oë en die laaste man was diep bewoë. Hulle het my vergewe,” het hy gesê.” (Beeld 26 Mei 2009).
Volgens Vlok is hy nou bevry van die bagasie wat hy voorheen saamgedra het omdat hy skuld beken het vir sy aandeel aan apartheid.
“Apartheid se beleide was op liefdeloosheid gegrond. Dit het baie mense seergemaak,” aldus die oudminister.
Dis is soms verstommend om die naïwititeit van mede-Afrikaners gade te slaan. Ná meer as 300 jaar op die Afrika-vasteland verstaan soveel van ons nog nie die mentaliteit en manier van doen in Afrika nie.
Kan dit wees dat Afrikaners se Christelike toegewydheid deels verantwoordelik is vir die situasie waarin ons onsself bevind?
In Februarie vanjaar het die NG-kerkgangers in Moreletapark ‘n interessante ervaring beleef. Die plaaslike onwettige plakkers, wat hulleself skuins oorkant die Woodhill-landgoed tuisgemaak het, is deur die kerk genooi om die diens by te woon. Een van die plakkers, ‘n Zimbabwiër, het namens sy gemeenskap ‘n paar woorde gespreek. Hy het van sy eie ervarings vertel en gemeld dat hy weens “racialisation” die plaas in die Limpopo-provinsie waar hy ‘n ruk lank gewerk het, moes verlaat. Hy het egter nie verwys na die redes waarom hy Zimbabwe verlaat het vir die groener weivelde in Suid-Afrika nie. Ds Willem Badenhorst het die plakker daarna genooi om te sit sodat hy sy voete kon was.
“Take off your shoes. Dié wat julle aan een van die geringstes gedoen het, het julle ook aan My gedoen. Ek is nie beter as jy nie ou maat, you don't understand Afrikaans but don't worry, and I cannot speak Fanagalo, but in the Name of Jesus He loves you, He is your Lord and Saviour, and you must go to this camp and you must wash the other people's feet.” (Transkripsie van die preek te sien op http://www.moreleta.org/NGGM/Users/PortalPageEdit.aspx).
Aan die einde van die diens is gemeentelede na vore genooi om mieliemeel en blikkieskos van die stapel voor die kansel te kom haal en persoonlik aan die plakkers uit te deel.
“Mag God deur sy Gees net jou hart vasgryp vir die nood en die pyn van hierdie wêreld, want dit is nie net hongersnood nie, dit is ook emosionele nood, hier is ook ander pyn. Soos wat die plakkers nou kom en ons gaan begin sing, kom haal vir jou 'n blikkie, kom vat 'n pakkie meel en kom gee dit vir hulle. Natuurlik kan almal van ons nou nie kom nie, maar hier is meer as 1 000 pakkies meel, vat dit saam asseblief met die papier, met die blaadjie om die evangelie te gaan aanspreek en die nood en die honger. Kom ons fokus op die Here terwyl ons sê: Here, dankie vir U genade - how great thy peace. Amen.”
Die plakkerskamp langs die kerk het intussen met rasse skrede aangegroei. Plastic View, is die naam daarvan. En die kerk se uitreikaksie na die plakkers duur voort.
Naby die kruising van Atterburyweg en Genl Louis Botha-rylaan is daar deesdae ‘n reuse advertensiebord oor die pad wat ‘n oproep op mense doen om hulle na God te keer. http://www.turn2god.co.za/ is die naam van die webwerf wat daarop genoem word. Gaan kyk mens na die webwerf, lees jy dat hierdie groep se doelwit is om tien miljoen mense binne die volgende tien jaar na Jesus te lei.
Die Angus Buchan-fenomeen herinner my aan die liedjie Die storie van Karel Void, wat deur Kobus! gesing word:
Karel Void et besluit dat almal moet bid
in plaas om voor die TV op hul gatte te sit
Hy't die lig gesien en geglo dat hy
die sondige wêreld op hul knieë moes kry....
Void was verstom oor sy predikerskrag
Hy't koorsig begin droom wat hy daarmee kon vermag
Met 'n gesig vol wroeg en 'n bewende stem
het Void gesê dat hy die sonde gaan tem
Die profeet en sy aanhangers in die Kobus! liedjie het helaas geen gelukkige einde nie. In mistieke vervoering vergeet hulle van “oeste, seks & geld” en sterf hulle in futiele aanbidding op hul kniëe.
“Opium vir die volk”, was Karl Marx se kru opsomming oor godsdiens. En ook vandag is hierdie woorde nog relevant. Afrikaners trek oral in die land aan die kortste end: regstellende aksie en die bevoordeling van die “voorheen benadeeldes” kortwiek blankes in hulle pogings om werk te vind. Provinsiale owerhede verkies om poste vakant te hou as hulle geen geskikte nie-blanke aansoekers kan vind nie. Op munisipale vlak heers chaos. Op plase word mense soos muskiete uitgewis. In die lig van sulke omstandighede is dit seker normaal dat mense na ’n reddingsboei gryp. Die Christelike godsdiens leen hom by uitstek daartoe. Die boodskap is vertroostend en die belofte van ’n beter hiernamaals ná die aardse hellevaart lei tot ’n soort fatalistiese versoening met ons lot.
Verdien ons egter nie beter nie? Gaan ons vir ewig aan die agterspeen suig en die ander wang draai, in hoop op ’n hipotetiese beloning ná die dood vir ons lydsaamheid?
Ek meen dit het tyd geword dat Afrikaners hulle selfopgelegde boeie afwerp en oopkop en rasioneel begin dink oor hulle toekoms. Ons moet die harde werklikhede van ons vasteland verstaan en pragmatiese oplossings vir ons haglike posisie vind.
Mistisisme is nie die antwoord nie. Dit is ’n luukse wat ons in hierdie wrede land nie kan bekostig nie.
Of verkies ons dan regtig om soos Karel Void se aanhangers op ons kniëe te sterf?
Saturday, June 6, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment