Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, June 21, 2009

Waarom alle volksbewuste Dietsers moet saamwerk

Geskryf deur JH du Toit

Nog nooit was die tyd so ryp, soos juis nou, vir die drie hoof Dietse sustervolke, die Vlaminge, Afrikaners en Nederlanders, om op politieke terrein saam te werk nie. As klein volke is ons onderskeie stryde die versinnebeelding van dít waarop die algehele Westerse stryd om voortbestaan afstuur.

Geen volk is vandag 'n beter voorbeeld van waarheen die Westerse wêreld op pad is, mits vroegtydig opgetree word, as juis die Afrikanervolk nie. Nadat ons vir eeue as minderheid in Afrika oorleef het, het ons onsself aan die antagoniste onderwerp op aandrang van die ganse wêreld. Vandag betaal ons die prys in bloed.

Indien die Afrikaner nie voortgaan met sy huidige ontwaking nie, sal ons as volk binne twee geslagte nie meer bestaan nie. Die Afrikanisties-Kommunistiese alliansie wat Suid Afrika regeer, is nie net besig om kulturele en ekonomiese volksmoord (etnosiede) op ons te pleeg nie, maar bevorder ook die stille biologiese volksmoord (genosiede) van ons mense met sinistere aanhitsing en terselfdertydse ontkenning.

So is die Vlaminge ook besig om 'n dubbele stryd te voer teen die instroming van vyandige allochtonen (gekleurdes, veral Islamiete), maar ook teen ekonomiese en politieke uitbuiting deur die Franssprekende Wallonië. Die Vlaminge se stryd vir 'n onafhanklike Vlaandere, los van die saamgeflansde België, is 'n triomf in afwagting wat noodsaaklik is sodat onregte, wat teen daardie sustervolk gepleeg word, tot ‘n einde kan kom.

Dis egter veral die onlangse enorme prestasie van die Nederlandse party (PVV) van Geert Wilders in die Europese parlement wat vandag as jubelende inspirasie vir alle volksgerigte Dietsers dien. Die PVV het van 'n miniskule en onbenullige partytjie gegroei tot die tweede grootste in die Nederlande.

Vooraanstaande kommentators beweer dat indien daar nou 'n algemene verkiesing in die Nederlande gehou sou word, Wilders se party heel moontlik so 'n verkiesing sou wen. Dit sal nie net 'n enorme oorwinning vir die Nederlanders wees nie, maar wel vir die ganse Dietse wêreld.

Só 'n oorwinning sou hernude momentum aan die Vlaamse stryd gee, maar ook 'n broodnodige inspuiting en bondgenoot vir die Afrikanervolk verskaf. Die prestasie van die PVV tydens die pas afgelope Europese verkiesing is reeds genoegsame rede om volksbewustes in Afrikanergeledere tot optimisme aan te spoor.

In ons veldtog om 'n outonome Pretoria Stadstaat te verkry, is dit van kardinale belang dat ons internasionale bondgenootskappe smee. Niemand is beter geposisioneer vir daardie rol as Vlaamsbelang en die PVV nie. Die Vryheidsfront+ het die potensiaal om in die komende plaaslike verkiesing wel Pretoria van die ANC weg te neem, weens Afrikaners se demografiese sterkte in hierdie stad.

Wanneer ons beheer van die stad kry, sal ons die swart dorpe, wat die ANC onwettiglik by ons stad ingelyf het sodat hulle ons kan oorheers, losmaak van Pretoria. Ons sal die Vlaminge en Nederlanders se hulp verwelkom in ons stryd om voortbestaan. Die Afrikaner se oorlewing het geestelike waarde vir ons mede-Dietsers. As ons ten gronde gaan, sal hierdie derdewêreldse periferie ‘n kleedrepetisie vir die Westerse eerste wêreld word.

As ons 'n onafhanklike Pretoria kan tot stand bring, sal dit daarop dui dat laer trek die enigste oorlewingstrategie te midde van die vloedgolf is. Binne die Europese konteks is die Nederlanders en Vlaminge klein volke. Om hul eie voortbestaan te verseker, is geestelike eenwording met die Afrikaner se saak 'n formule om mekaar te inspireer en die gety teen ons te laat draai.

No comments:

Post a Comment