Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, June 15, 2009

Hoe om ‘n maatskappy tot in die afgrond in te bestuur

Geskryf deur Sonette Ahlers

Die Mail & Guardian laat hierdie week die kollig val op gebeure by die openbare uitsaaier, die SABC.

Volgens dié koerant lyk die firma se finansiële sake nog slegter as wat aanvanklik gedink is. Die SABC skuld naamlik R100 miljoen aan SuperSport alleen vir die uitsaairegte vir PSL en -krieketwedstryde.

Verlede week het meer as 1 000 lede van die onafhanklike televisieproduksiebedryf by die SABC betoog en aangedring op ‘n nuwe bestuur vir die uitsaaier. Hulle het ook aangedring op onmiddellike betaling van die sowat R40 miljoen wat aan hulle verskuldig is.

Die SABC sal eers hierdie rekeninge kan vereffen nadat die regering hulle versoek om ‘n lewensnoodsaaklike twee miljard rand toegestaan het. Dit lyk egter nie of die regering gou aan hierdie versoek gaan voldoen nie.

Verder het die Dali Mpofu-saga ‘n verdere kinkel opgelewe toe die Suid-Gautengse Hoër Hof besluit het téén die SABC se besluit om hulle voormalige uitvoerende hoof verlede jaar in die pad te steek. Hierdie seepopera het naamlik in Mei 2008 ‘n aanvang geneem toe Mpofu, ‘n gewese minnaar van Winnie Mandela, vir nuushoof Snuki Zikalala in die pad gesteek het nadat hy interne dokumente aan die media laat uitlek het. Die SABC-raad het Mpofu summier die volgende dag in die pad gesteek. Mpofu is terstond hof toe en sedertdien word hy met surrealistiese reëlmaat elke paar maande heraangestel of weer afgedank. Die Suid-Gautengse hof het in hulle uitspraak spesifiek verwys na die swak leierskap van die SABC-voorsitter, Khanyisile Mkonza, en ander nie-uitvoerende direkteure wat op die raad dien.

Gister moes genoemde raad ophou funksioneer nadat die voorsitter en drie van die raadslede (Bheki Khumalo, Andile Mbeki en Desmond Golding) bedank het. Dit sal die parlement nou dwing om ‘n tydelike beheerliggaam aan te wys.

Die chaos bied natuurlik ‘n gulde geleentheid aan die regerende party om die SABC nou selfs meer noukeurig te monitor. Siphiwe Nyanda, ons arrogante minister van kommunikasie, ontmoet vandag die raad om met hulle oor die krisis te gesels.

Hoe op aarde gaan die probleme van die openbare uitsaaier aangespreek word? Die regering, Luthuli-huis, die minister en die parlementêre komitee het met die aanwysing van die vorige SABC-raad almal ingemeng om hulle kandidate te laat benoem. Dit gaan waarskynlik nou weer gebeur.

Die hofsake rondom die Mpofu-saak, die wanbesteding van miljoene, die sogenaamde swartlys-skandaal, die feit dat bekwame joernaliste die een na die ander hulle goed vat en loop of anders uitgewerk word by die instansie, die klassieke geval van Matilda Gaboo wat oor ‘n periode van 2 jaar R49 miljoen vermors het om programme aan te koop wat nooit uitgesaai is nie en om kontrakte aan vriende toe te staan - al hierdie faktore lewer afdoende bewys van die regering se skreiende onbeholpenheid en korrupsie.

Die SABC is lankal nie meer ’n openbare uitsaaier wat die belange van die bevolking dien nie: dit het ’n nes van nepotisme en onbekwaamheid geword - en ’n treurige uitstalvenster vir Afrika-chaos.

No comments:

Post a Comment